Home / News / Hof vol vir verkragsaak

Hy kan nie borg kry nie. Hy moet “muf” in die tronk.

Dít was die mening van verskeie hofgangers wat Dinsdag (29 Januarie) die hofverskyning bygewoon het van die 23-jarige man wat van die verkragting van ’n tweejarige peuter aangekla word.

Hofgangers het aanvanklik die openbare galery van die A-hof tot kapasiteit volgepak. Daar is die saak egter na die B-hof oorgeplaas, waar die beskuldigde reeds teregstaan op ’n aanklag van aanranding. Hofgangers het hulle na die B-hof gehaas waar dié wat nie sitplek binne die hof kon kry nie, voor die deur saamgedrom het.

Terwyl die beskuldigde gewag het vir sy saak om voor die hof te dien, het hy herhaaldelik gegaap. Hofgangers het ook woedend gereageer ná hy die ma van die peuter op pad na die aanhoudingselle in kru taal beledig het.

Tydens die beskuldigde se verskyning het die staat uitgewys dat ’n adres wat hy vroeër as deel van sy borgtog-aansoek verskaf het, nie bestaan nie.

Die beskuldigde het Dinsdag ’n nuwe adres aan die hof verskaf, wat opnuut nagegaan sal word voor sy borgtog-aansoek oorweeg sal word.

Die aanklaer, Xolani Ntozini, het gesê die aanklag van verkragting teen die beskuldigde mag dalk by dié van aanranding gevoeg word. Die hof wag nog op uitslae van DNS-toetse, asook getuieverslae, het hy met betrekking tot die verkragtingsaak gesê.

Landdros Andrew le Fleur het die saak tot 27 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek. Die beskuldigde bly tot dan in hegtenis.

Woedende hofgangers het nog vir lank ná die beskuldigde se verskyning buite die hofgebou saamgedrom en hul weersin in die beweerde verkragting uitgespreek. “Hoe kan hy dit aan ’n tweejarige kind doen?” het een ontsteld gevra. Hulle eis dat hy borgtog geweier word.

Die verkragtingsaak teen die beskuldigde spruit uit ’n voorval op 17 Januarie waarin die peuter glo verkrag is. Die kind se ma het onraad vermoed toe sy swaar asemgehaal het. ’n Mediese ondersoek het getoon sy is verkrag. Die kind het verskeie kneusplekke aan onder meer haar gesig opgedoen en haar longe is ook in die voorval beseer. Sy is vir behandeling in die Worcester-hospitaal opgeneem, maar is intussen ontslaan.

Related Articles
  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Wednesday 2013-06-19
Please select your area for forecast
CPT 14° - 25° icon
PTA 3° - 18° icon
JHB 2° - 17° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 11° - 25° icon
Visit AfricaWeather.com for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs