Aanstootlike plakkate wat oral in Worcester opgeplak is, het die publiek warm onder die kraag.
Die plakkate, met beloftes oor alles en nog wat, het die afgelope tyd soos paddastoele oral in Worcester verskyn. Die plakkate skreeu boodskappe soos “Penis Cream”, “Abortion Same Day 100% Safe and Pain Free”, uit.
Lede van die publiek het nou tot die geveg toegetree en eis dat daar opgetree word.
“Die persoon wat die dorp so vol van sy aanstootlike plakkate plak, moet bietjie oor die vingers getik word. Die A4-plakkate van ‘manlike organe...aborsies ens’. Die hele Hoogstraat se pale is volgeplak,” het Leonie Pelteret op die Standard se Facebook-webblad geskryf. “Daar moet sekerlik ’n wet daarteen wees,” het André Steyn ook op die Standard se Facebook-webblad gesê.
Volgens die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir kommunikasie, bemarking en korporatiewe dienste, raadslidFrank van Zyl, het die munisipaliteit baie klagtes van die publiek ontvang.
“Dit is onaanvaarbaar dat iemand in die dorp sulke aanstootlike plakkate sonder toestemming op munisipale eiendom plak,” sê Van Zyl. Volgens hom mag ’n persoon nie aanstootlike publikasies versprei nie en kan mense wat dit doen, vervolg word.
Hy het gesê dat die munisipaliteit ’n skoonmaak-groep aangestel het. wat besig is om die plakkate te verwyder.
Hoe gaan die munisipaliteit die skuldige vervolg? “Dit is maklik, die man se naam, adres en selnommer verskyn op die plakkate. Die skuldige sal verantwoordelik wees vir die munisipaliteit se ekstra koste om die plakkate te verwyder,” het van Zyl gesê.
Dit is volgens hom die eerste keer dat sulke aanstootlike plakkate die hele dorp tref. “Enigeen wat op munisipale eiendom wil adverteer moet vooraf reëlings tref en toestemming daarvoor kry.” Volgens Jo-Anne Otto, woordvoerder van die departement gesondheid in die Kaapse Wynlanddistrik, behoort mense nie sulke dienste te ondersteun nie en eerder ’n gekwalifiseerde en geregistreerde gesondheidspraktisyn te besoek.