Ek is nie meer alleen in my pogings om gewig te verloor nie. My dierbare man het ook besluit hy moet bietjie aan sy middel werk. Ons is nou saam in hierdie ding en ek moet sê dit maak die diëet ‘n bietjie makliker en lekkerder. Nou hoef ek nie meer 2 stelle etes voor te berei nie en ons kan mekaar moed in praat as die yskas roep en hou mekaar verantwoordelik vir ons keuses.
Dit is vir my lekker om te kan rapporteer dat ons albei na ‘n week 1kg verloor het. Ek glo nie ek gaan teen hierdie tempo my 6kg mikpunt behaal voor ons oor 2 weke op vakansie gaan nie. Maar ek sal dalk 3kg kan haal wat steeds ‘n positiewe effek op my jean sal hê!
Ek het die afgelope week nog ‘n mylpaal behaal. ‘n Nuwe persoonlike beste in ‘n 5km wedloop. 26min en 55sek. Dit maak my ongelooflik trots op myself. Draf is definitief nie die lekkerste oefening wat mens kry nie. Dit vat moeite en deursettings vermoë om jou tekkies aan te trek. Maar as jy positiewe resultate sien in jou tye, raak dit die moeite werd.
Ek dink dit is dieselfde met diëet. Die vordering is stadig en mens werk baie hard om dan net ‘n klein verskil op die skaal te sien. Maar as jy daai verskil sien, word jy weer gemotiveer. Net soos elke tree in ‘n wedloop een tree nader aan die eindstreep is, is elke gram ‘n treetjie nader aan jou doel gewig. Ons gaan dus nie opgee nie. Elke gesonde keuse is ‘n stappie nader aan ons doel. En ons is vandag nader aan ons doel as wat ons ‘n week gelede was.