Home / News / Wrede moord nog ’n raaisel

Drie mans wat verdink word van die grusame moord op Sherwin “Dimpel” August (20) het verlede Vrydag (8 Februarie) vlugtig in die Worcester-landdroshof vir ’n borgtogaansoek verskyn.

Bespiegelings oor die aard van August se moord het Maandag 28 Januarie wyd die ronde gedoen ná die plaaslike polisie op sy lyk in Avianpark afgekom het.

Die drie beskuldiges William Ryan, Jonathan Arendse en Chris Mentoor, is Dinsdag 29 Januarie in hegtenis geneem vir die moord op August.

Die polisie het August se lyk in ’n vlak graf in hoë riete digby Avianpark gevind.

“My hart is só seer. Hulle het hom soos ’n dier doodgemaak. Hy is met ’n mes gesteek, in sy kop geskiet, sy oë is uitgehaal, toe het hulle hom verbrand en ná dit het hulle hom begrawe. Die mense wat my seun vermoor het is wrede moordenaars. Ek hoop dat hulle in die tronk sal vrot,” het Shirley August aan die Standard gesê.

Sover Shirley se kennis strek, was haar seun nooit by bendes betrokke nie. Sy sê dat hy wel die afgelope jaar tik gebruik het.

“Sherwin se lyk is gevind ná polisielede die gebied gefynkam en sy tekkie bo die grond sien uitsteek het,” sê Shirley. Die polisie het ’n leidraad van die publiek opgevolg. Volgens Shirley was haar seun nie ’n persoon wat lank van die huis weggebly het nie. Sy het bekommerd geraak toe haar seun vir ’n hele dag van die huis weggebly het.

Shirley beskryf Sherwin as ’n grapjas en dat hy baie lief was om te sing. Sy het bygevoeg dat hy altyd in die woonstelblokke beweeg het en dat hy ’n baie opgeruimde mens was.

Shirley het ook haar bekommernis uitgespreek oor die feit dat haar seun die derde jong slagoffer van Riverview se E-blok is wat gewelddadig sterf. Twee ander jongmans is elders vermoor.

August is op 27 Januarie as vermis by die polisie aangemeld, sê kapt.Mzikayise Moloi, polisiewoordvoerder.

Volgens Moloi is daar ’n duidelike en kommerwekkende toename in die moorde op jongmense in die Worcester-gebied. Moloi beweer dat August se moord bendeverwant is. Volgens hom is mesmoorde die mees algemene vorm van moord in Worcester.

Die hofsaak is uitgestel vir verdere ondersoek en die drie beskuldiges sal weer op 11 Maart in die Worcester-landdroshof verskyn.

Related Articles
  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2013-05-24
Please select your area for forecast
CPT 9° - 20° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 6° - 23° icon
BLOEM 2° - 25° icon
DBN 15° - 24° icon
PE 13° - 22° icon
Visit AfricaWeather.com for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs