Home / News / Verslae ná huis gesloop is

Sy sit verwese tussen die sinkplate en platgestote stutpale. Trane trek blink spore oor haar wange.

Van die negevertrek-huis in Mandela Square is weinig oor en Kathy Louw, wat sedert 1996 hiér woon, is verpletter.

Volgens Louw het werkers van die Breedevallei-munisipaliteit Dinsdag 12 Februarie vroegoggend aan haar deur kom klop en kort daarna haar huis begin platslaan.

Sy het verlede jaar ’n aanmaning van die munisipaliteit gekry dat sy op 15 Desember uit die huis moet wees, sê Louw, maar haar naam was verkeerd gespel op die brief. Boonop, sê sy, was die huis eintlik op haar oorlede lewensmaat se naam en nie haar naam nie.

Sy het die brief na die munisipaliteit geneem waar sy dit aan ’n amptenaar oorhandig het wat haar aangesê het om nie uit die huis te trek nie en haar verseker het dat die huis nie platgeslaan sal word nie. Die amptenaar het na bewering die brief by haar geneem met die belofte om terug te kom na haar, maar dít, sê Louw, het toe nooit gebeur nie.

Hoewel ’n HOP-huis onlangs aan haar toegeken is, is daar nog nie elektrisiteit na dié huis aangelê nie, sê Louw. Boonop, voeg sy by, kan sy dit met haar karige staatstoelae nie bekostig om nou te verhuis nie.

“Dit was ’n familiehuis dié. Waar moet ek dan vanaand slaap en waar gaan ek nou met my eiendom heen. Ek kan dit nie so los nie, dit sal gesteel word,” sê Louw waar sy op ’n omgekeerde koeldrankkrat sit.

Boonop is van haar huisraad, waaronder glasware, haar televisie en yskas, na bewering beskadig toe die huis platgeslaan is. Volgens Louw wil ’n raadslid die erf waarop die huis staan koop en is dít die rede waarom die huis platgeslaan is. “Hierdie is die eerste huis ooit wat in Zweletemba platgeslaan is.”

Vriendinne wat by Louw se platgeslaande huis saamdrom is ontstoke. “Dis nie reg nie!” sê Thombi Saul. “Hier is baie tsotsi’s. Sy kan vanaand verkrag word.” Nóg ’n vriendin, Reinette Bresnier, is ewe ontsteld. “Waar gaan sy vanaand slaap? Hulle (die munisipaliteit) sal moet regmaak.”

“Ek gaan môre weer die plate begin vaskap,” sê Louw vasbeslote. “Dis my huis dié!”

Volgens Johan Botha, woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, was Louw se huis op munisipale grond en is sy as begunstigde van ’n HOP-huis in Zweletemba verwittig die informele woning moet van dié grond verwyder word wanneer sy die HOP-huis betrek. Louw is verskeie kere skriftelik versoek om die struktuur te verwyder.

Met die afbreek van die struktuur is alles moontlik gedoen om te verseker dat Louw se eiendom nie beskadig word nie, sê Botha.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Wednesday 2013-05-22
Please select your area for forecast
CPT 14° - 21° icon
PTA 6° - 24° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 4° - 24° icon
DBN 14° - 28° icon
PE 13° - 23° icon
Visit AfricaWeather.com for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs