Home / News / Wolseley-brand verwoes fynbos en plantasies

Die eertydse departement van bosbou se bord met die betraande steenbokkie voor lekkende vlamme is in ’n digte rookwolk gehul. Dit is snikheet warm, die kwik iewers in die 40 C.

Telefoondrade hang soos spaghetti aan swartgebrande pale. Takke en boomstamme knal in die vlamme terwyl voëltjies, insekte en reptiele voor die rook en hitte vlug. Net die kraaie bly draai, duik kort-kort af en swiep hemelwaarts met iets in die snawel.

Vyf helikopters en ’n vastevlerk-bespiedersvliegtuig dreun in die rigting van die berge, terreine wat ontoeganklik is vir die sowat 130 brandbestryders op die grond.

Wolseley is omhul in rook terwyl brandbestryders van Werk met Vuur en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brand- en reddingsdiens alles in die stryd werp om die brand te blus.

Die wegholveldbrande wat groot dele van die Boland onlangs gekenmerk het, het ook sy merk op Kluitjieskraal buite Wolseley gelaat. Groot dele plantasie en fynbos het in die slag gebly.

Volgens Willie Brink, algemene bestuurder: plantasies by Cape Pine, wat grootskaalse skade in die brand gely het, word die volle omvang van die skade steeds bereken. Die skade, aldus Brink, gaan na verwagting duisende rande beloop.

Die vlamme het sowat 820ha verswelg, waarvan 700ha onder plantasie is en 120ha bewaringsgebiede insluit.

Volgens Brink sal dennebome wat groot genoeg is in die geraakte gebiede afgekap en deur verskillende saagmeulens benut word. Vir die bloekoms is moontlike benutting nog nie duidelik nie.

Die gebrande gebiede sal volgens Brink ná die kaalkap daarvan nie weer beplant word nie aangesien die maatskappy ingevolge sy huurooreenkoms met die regering nie weer die plantasie kan beplant nie.

Die betrokke gebiede sal mettertyd weer terug aan die departement van landbou, bosbou en seevisserye oorhandig word.

Volgens Brink is die maatskappy bekommerd oor die uitwerking wat die brand op werksgeleenthede in Wolseley kan hê. “Ons wil die gemeenskap aanmoedig om saam met ons te sorg dat veldbrande beperk word.”

Die maatskappy bedank die brandbestryders vir hul bydrae om die vuur te bestry.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Wednesday 2013-05-22
Please select your area for forecast
CPT 13° - 26° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 7° - 22° icon
BLOEM 4° - 23° icon
DBN 13° - 25° icon
PE 11° - 30° icon
Visit AfricaWeather.com for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs