Home / News / Ouma Maria skatryk op 104

Sy was maar nog ’n bogkind toe die Eerste Wêreldoorlog aangebreek en sowat vier jaar later geëindig het. Sy het die Tweede Wêreldoorlog sien kom en gaan. Maar dit is nie een van dié geskiedkundige gebeurtenisse wat vir Ouma Maria Carelse as een van die onvergeetlikste in haar lewe uitstaan nie.

Nee, sê dié waardige dame met 104 somers agter die blad, dit was ’n ervaring in die klaskamer van ’n piepklein skooltjie, Holy Trinity, wat sy nóóit sal vergeet nie.

Waar sy gemaklik teruglê teen die kussings, sluit sy vir ’n oomblik haar oë. “Nog niemand kon ooit vir my verklaar wat daardie dag gebeur het nie,” sê sy dan.

Sy was in daardie jare se standerd vier toe die skoolinspekteur die dag die skooltjie besoek het. “Daai tye het ons altyd almal die bibberasies gehad,” lag sy.

Die kleinspan het almal van lank na kort voor die gevreesde “meneer” gestaan Ouma Maria heel aan die punt, want sy was die kleinste in die klas. Dit was tóé dat sy die vreemde ervaring gehad het. “Dit was asof die hemele neergedaal het. Maar in daai klas was ek nié. Ek sê vir jou nou, ek was nie daar nie. Maar waar was ek dan?” peins sy. Tot vandag toe, sê sy, kon niemand dié raaisel verklaar nie. Meer nog, vertel sy, terwyl sy “weg” was, het sy boonop die antwoord op ’n moeilike vraag gegee wat “meneer” gevra het.

“Agterna het die ander kinders vir my gevra hoe ek die vraag kon beantwoord. Ek kon hulle nie antwoord nie, want ek weet nie.”

Ná al die jare wonder Ouma Maria oor die gebeure van daardie dag.

Vra jy haar uit na die geheim van haar rype ouderdom, dít boonop sonder enige ernstige gesondheidskwale, kom die antwoord sonder skroom: “Net my God se genade het my so ver gedra. Net Hy alleen.” Die feit dat sy op die sendingdorpie Middleton naby Caledon grootgeword het, sê Ouma Maria, het moontlik daartoe bygedra dat sy kleintyd reeds diep gelowig was.

“Ek sê altyd daar was net drie mans in my lewe,” sê Ouma Maria uit die bloute. Sy hou haar hand in die lug en tel op haar vingers af: “My oorlede pa ’n lieflike mens, my oorlede man en my oorlede skoonpa.” Vir ’n oomblik maak sy haar oë toe. ’n Glimlag pluk aan haar een mondhoek. “Foei tog, hulle is ook al almal weg.”

Sy en haar man was maar 18 jaar getroud toe hy oorlede is. Haar oë skitter as jy vra hoe hulle mekaar ontmoet het. Dan tel sy ’n denkbeeldige viool op en begin speel. Só het hulle ontmoet, vertel sy. “En hy was ’n baasvioolspeler, hoor!” Vier kinders, van wie die oudste twee dogters nog leef, is uit hul gelukkige huwelik gebore.

Boonop is sy skatryk, spog Ouma Maria, op haar dag bobaaskok, -bakster en -naaldwerkster, met ’n vonkel in die oog. Sy het 10 kleinkinders wat nog leef, 14 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Sunday 2013-05-26
Please select your area for forecast
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Visit AfricaWeather.com for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs