Die De Doorns-krieketklub het Saterdag (9 Februarie) teen Koue Bokkeveld in die eerste afdeling Noord-Boland 50-beurt-kompetisie gespeel en met vyf paaltjies gewen.
Die wedstryd het op die Bolandpark-stadion plaasgevind.
As gevolg van die reën is die wedstryd tot 35 boulbeurte elk verkort.
Koue Bokkeveld het eerste gekolf en ’n telling van 131 lopies (almal uit) aangeteken.
Koue Bokkeveld se Jonathan Mars wat 50 lopies behaal het en Trevor Louw (17), is die enigste noemenswaardige bydraes.
De Doorns-krieketklub se 16-jarige Henrico Abrahams se boulwerk was uitstekend. Abrahams het syfers van 4/14 behaal, met nog ’n 16-jarige, Damian Fuller, wat 2/30 behaal het.
De Doorns het in die 27ste boulbeurt met ’n pragbeurt van 32 (nie uit nie) deur Damian Fuller die 132-wenteiken bereik.
De Doorns se kaptein, Renier Plaatjies (20), Clinton Anthony (17) en Garnet Wagenstroom (15) het hul span gehelp om die 132-wenteiken te bereik.
Volgens Jerrie Robinson, De Doorns-krieketklub se hoofafrigter, deel sy span die derde plek op die ligatabel met Worcester Korrektiewe Dienste-krieketklub.
Eerskomende naweek speel De Doorns-krieketklub teen Ceres 2 in Ceres in die laaste ligawedstryd.