Friday 18 April 2014
Home / News / Dorp is ‘mekka van prostitusie’

Die oudste beroep in die wêreld floreer op Worcester.

In so ’n mate dat Worcester as die mekka van prostitusie bestempel word en klandisie van heinde en verre hierheen lok.

Só beweer inwoners wat daagliks en veral snagsmet dié bedryf gekonfronteer word. Omdat dié bedryf so openlik en sonder gevaar van vervolging op Worcester bedryf word, beweer hulle, stroom prostitute, oftewel sekswerkers - en transvestiete, oor naweke hierheen. Dié bedrywighede word van die meeste straathoeke in die middedorp bedryf, maar Tulbagh-, Kerk-, Porter- en Napierstraat blyk die gewildste te wees. Koppelaars sit glo op motorfietse op straathoeke om die sekswerkers dop te hou.

Verontwaardigde en bekommerde inwoners maak die afgelope tyd al meer stem dik oor wat hulle bestempel as ’n skandvlek op Worcester se naam en wat die swakste voorbeeld denkbaar vir die jeug stel. Inwoners van veral Kerk- en Tulbaghstraat moet al jare lank vir lief neem met wat in die donker voor hul woonhuise plaasvind. Dié wie se voorstoepe of tuine nie met tralies afgekamp is nie, moet gereeld sekswerkers van hul eiendomme verwilder wat ’n oorlas van hulself maak of wat nie omgee waar hulle hul bedryf beoefen nie.

Sekswerkers, het een inwoner gesê, is nou al so blatant dat hulle helder oordag ook mans aanlok. Volgens wat van die inwoners vertel, bereik die bedryf oor naweke sy hoogtepunt en word voertuie, selfs luukse motors, snags hier gesien. ’n Ander het laat deurskemer dat van die plaaslike voertuie dié van bekendes is, van party wat helder oordag die vroue opsoek in voertuie met logo’s en al op die deure! Gautengers, beweer een inwoner, is slimmer; hulle verwyder saans hul voertuie se gloeilampies wat die nommerplate verlig!

Meer as een inwoner het sy kommer uitgespreek oor die feit dat prostitusie ook met ander misdade soos dwelmverspreiding en onwelvoeglike gedrag gepaardgaan. Daar word verder beweer dat die polisie nie optree nie.

Dis onwaar, sê kapt. Mzikayise Moloi, polisiewoordvoerder op Worcester. Volgens hom is prostitusie een van die moeilikste en tydrowendste misdade om te ondersoek. “Ons monitor beslis sekswerkers vir misdade soos diefstal (roof) en die verspreiding van dwelms, maar nie vir prostitusie nie.”

Moloi sê mans kom kla dikwels dat hulle deur van die sekswerkers beroof word.

Wat hóm geweldig bekommer, is die feit dat van die sekswerkers ooglopend kinders is. Dit, sê ds. Jurie Wessels van die NG Moedergemeente, kom neer op kinderprostitusie. Wat ook ontstellend is, is dat daar in Tulbaghstraat alleen verskeie skole, kerke, tehuise vir senior burgers en ander opvoedkundige instansies is en dat veral die skoolgaande jeug blootgestel en soms selfs beroof word.

Wessels wys daarop dat ekonomiese omstandighede mense dikwels tot prostitusie dryf. In die Ring word baie gepraat oor en gebid vir leiding omdat die kerk ’n geestelike verantwoordelikheid teenoor kwessies soos dié het, sê hy. Prostitusie, sê Wessels, is simptomaties van ander probleme soos misdaad, ekonomiese, maatskaplike en geestelike probleme. Die kerk doen dalk nie genoeg van sy kant nie, maar aan die ander kant “kan jy nie die evangelie op ’n leë maag bedien nie”.

Een van die onheilsneste in Tulbaghstraat is die leë, oorgroeide erf langs die provinsiale verkeersdepartement se kantore. Haweloses het van elders in die dorp hierheen getrek.

Die erf is die eiendom van die Provinsiale Administrasie Wes-Kaap (PAWK). Inwoners het al herhaalde kere oor dié erf se toestand gekla en ook omdat skoolkinders al verskeie kere hier aangeval en beroof is.

Johan Botha, woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, sê die munisipaliteit dra kennis van die besware. Volgens hom is daar al tot op politieke vlak met PAWK hieroor gekonsulteer. “Aangesien dit nie raadseiendom is nie, kan daar nie sonder die eienaar se toestemming opgetree word nie.”

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom